@Parker

Dankbaar

Ek het ‘n man geken, wat ‘n reguit pad gestap het. Ek praat in die verlede tyd want hierdie man het so ‘n groot rol in my lewe gespeel dat 5 jaar na sy afsterwe kan ek nog steeds nie oor hom iets skryf sonder dat my oë branderig raak en daar ‘n knop soos ‘n magneet in my keel gaan vassit nie. Ek kon hierdie man Pa noem.

Daarom gaan ek nie vertel hoe wonderlik hy was nie, almal wat hom geken het, het dit geweet, en die wat hom nie geken het nie, sal in elk geval net dink ek lieg.

Hierdie man het een groot swakpunt gehad, en dit is ‘n ding wat nou net so aan my oorgedra is. Soos dit die lewe betaam is dit nou my man se grootste ergernis, net soos dit altyd  Ma s’n was. Maar in retrospeksie as mens na al die ergernisse wat daar moontlik kan wees kyk, is hierdie een nie so erg nie.

Dit is ‘n Parker pen.

Daar is iets omtrent ‘n Parker pen, wat ander nie sal verstaan nie.

Die oomblik wat jy ‘n Parker pen vashou, die perfekte balans, hy maak nie jou hand moeg nie, jou ‘carpal-tunnel’ trek nie tot hier duskant jou ore nie, jy kan skryf, jy kan teken, die legio dinge wat jy met ‘n Parker pen kan doen is verstommend.

Hier bo is een van die kreatiewe oomblikke wat ek beleef het met ‘n Parker.

Behalwe vir die mooi daarvan is die kalmte en rustigheid wat jy beleef na die teken van so iets mooi soos hier-bo onvervangbaar.

Daarom wil ek tog maar vandag vir Pa baie dankie sê vir die kweek van kuns so mooi soos Parker en dit wat mens daarmee kan doen. Dankie dat Pa ‘n liefde in my gekweek het vir iets wat nie deel is van hierdie weggooi kultuur waarmee ons besig is nie.  Dankie dat ek ‘n liefde mag deel waaroor ek nie hoef skuldig te voel nie.

Ek hoop maar dat my man eendag ook verlief sal kan neem met hierdie ergernis soos Ma maar gedoen het.

 

 

 

This post contains affiliate links. If you are kind enough to use my code, I make a buck or 2, without you paying anything😉.

Advertisements

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.