Redenaars

Hierdie afgelope 2 weke het ek die ongelooflike voorreg gehad om na Mpumalanga se pratertjies te luister, en sjoe! Met ‘n jeug wat so kan redeneer kan ons groot dinge in die toekoms verwag.

Afrika King

Ek sit hier onder ‘n droeë leë boom, soos net Afrika droog en leeg kan wees in die winter. Die hoëveld windjie sny deur my klere, terwyl die winters-sonnetjie op my trui bak.

Afrika se teëstellings. Hier kan jy in een dag, op een oomblik warm en koud wees, die son kan ongenadiglik neerbrand terwyl die wind snerpend deur jou kan vloei.

Augustus is ‘n land van eensame dorheid hier aan die suidpunt van Afrika, die winter het sy laaste stuiptrekkings voor sy dood en in hierdie tyd spoel sy stuiptrekkings in stof en ongenaaktheid oor die res van ons, die kinders van Afrika. Almal is in ‘n verbete oorlog vir asem, tussen stof en wind, koue en hitte.

Kragstasies staan uitgestrek oor die vlaktes, terwyl hulle hulle gasse die lug in pomp. Om hulle is elke mens verbete op soek na asem en werk.

The cost of air pollution in South Africa

Kanon-spuite tik-tik-tik-tik-tjiiieeer op elke plek waar jy geseënd genoeg is om toegang tot baie water te hê. Langs my draai ‘n man die kanon-spuit se gorrel toe en die spuit word geskuif na die volgende droë kol, om Afrika se dooie gras darem bietjie te verbloem.

Die gorrel word weer oopgedraai en die kanon-spuit sit verbete sy oorlog teen die winter voort.

Die kinders sny kort-pad verby die spuit, al hardlopend sodat hulle net nie raakgespuit moet word nie.

Hoe gepas is dit nie in ‘n land waar politici se gorrel een kant toegedraai word, sodat ‘n ander een op ‘n ander plek weer kan poep teen die donderweer van Afrika.

Dwase dawer voort sonder dat hulle druppels ‘n verskil maak. Self die gorrel- draaier is kurkdroog.

https://maroelamedia.co.za/geldsake/sakenuus/grafieke-so-lyk-werkloosheidskoerse/

Maar gelukkig het ons ‘n jeug wat wil opstaan, ons het ‘n jeug wat graag wil deel wees van die oplossings.

Die indruk in elke lokaal is dat hierdie is My land. Hier wil ek oplossings vind. Hier wil ek bly. Hier wil ek graag deel wees van die oplossings.

Dit was ‘n ongelooflike voorreg om deel te wees van alles wat Radikaal is.

Radikale Redenaars

Volg hulle vir ‘n ander toenadering tot redenaars.

This post contains affiliate links. If you are kind enough to use my code, I make a buck or 2, without you paying anything😉.

Advertisements

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.