Ons eie superpower

Sondagmiddag super tye

“Someone with NLD may miss the forest and the trees because of his intense focus on the leaves”

Priscilla Scherer R.N.
ADDitude

Ons sit in ‘n strak grys kamer, al die lyne is reguit en die die hoeke is 90’, nêrens is daar ‘n warm kleur of ‘n sweempie van geluk nie, grys, alles is grys. Doodse stilte, net af en toe is daar die skril geluid van die deurklokkie wat die hele dodemars uitbasuin, die vrou agter die toonbank is opgewek maar kwaai, sy is moeg, dit is die einde van die jaar, nog ‘n jaar. Sy vloek elke keer as die dodemars begin: “dit is nie my deuntjie nie, ek soek my deuntjie…” Weer stilte… Doodse stilte.

Ons van word geroep, gedwee staan ons op, loop deur die lang gang, reguit gang. Aan die einde van die gang is daar ‘n klein kamertjie. Hierdie een is grys en rooi, die kleur van bloed, klein, met geen son wat inkom nie, weereens reguit en 90’, daar is ‘n lessenaar teen die muur waar niemand ooit sit nie, hy is net daar vir pakplek. Links van die lessenaar is ‘n 90’ bank. Langs die bank is daar niks, nie ‘n tafeltjie nie, want jy gaan nie koffie kry nie, dis nie ‘n kuier nie, dit is ‘n oomblik, ‘n oomblik wat die res van jou lewe gaan verander, jy weet dit, maar jy weet nie hoe nie.

Ons neem stelling in op die lang reguit rooi bank. Ons kyk vorentoe, want waarheen sal mens anders kyk?

Die man kom in. . . “Dag”: sê hy. “Dag”: sê ons. “Kom ons begin”; sê hy, “Goed” sê ons. Wat moet ons anders sê?

Daar begin die man, hy ruk elke stukkie vaste grond onder ons uit, Bennie en Benjamin het altwee NVLD, nee julle sou nog nie daarvan gehoor het nie, dit is ‘n gestremdheid wat nog nie in die DSM opgeneem is nie. Dit is ‘n wanfunksie van die brein lobbe, die linker een is abnormaal dominant oor die regter een, nee dit is nie ‘n abnormaliteit nie.

Het jy al ooit agtergekom dat jy nie verstaan wat in ‘n gesprek aangaan nie? Het jy al ooit agtergekom dat jy nie dieselfde gevolgtrekkings kan maak as ander mense nie? Het jy al ooit agtergekom dat jy tyd nie kan bestuur soos ander mense nie? Sarkasme? Multi-tasking? Abstrakte denke? Finansies? Detail is belangrik, maar jy sien nie die groter prentjie nie? Baklei mense met jou oor opdragte wat nie reg of volledig uitgevoer word nie? Raak jy verlore? Val jy oor jou eie voete? Raak jy maklik moeg?

Al hierdie dinge is tekens van NVLD, ‘n spektrum gebasseerde gestremdheid, wat maak dat jou brein anders funksioneer as ander mense s’n. Nie verkeerd nie, net anders.

“Living in Limbo, too normal to be disabled and too disabled to be normal”

Michael Brian Murphy
NLD from the Inside Out

So het ons die nuus ontvang, gehuil, gesit, gelag nog gehuil en toe besluit om aan te gaan.

Wag, ek laat dit nou maklik klink en dit was nie, as ek sê gehuil bedoel ek die lelike rolle toiletpapier wat naderhand oor die snippermandjie uithang, bolle wat langs jou op die grond lê, vol snot en TRANE, baie trane. Met sit bedoel ek daai sit wat jy regitg nie weet hoe jy ooit weer sal opstaan nie, daai sit wat die Afrika son jou insmelt in die stoel, daai sit waar jy nie jou vinger kan optel nie want dit is te veel werk. Lag, daai histeriese lag wat jy voel jy sal nooit ophou lag nie, daai lag wat jy lag as die trane klaar is, en daar net histerie in jou longe oorbly, daai lag wat eintlik net langs huil lê en dan voor jy jou kan kry huil jy weer.

So begin jy die ding jou eie maak, almal het ‘n idee en ‘n plan en ‘n oplossing. Almal wil weet wat en waar. Intussen lê jy elke nag heel nag en lees, elke liewe moontlike ding wat jy in die hande kan kry, elke blog post, elke artikel elke toets ALLES! Jy lees en lees en lees, daar is naderhand nie meer plek om alles te bêre in jou neuro-tipiese brein (dis ons ander mense) nie. Jy lees, en die feite swem rond in jou kop. Jy lees en jy verduidelik vir dokters en pediaters en aptekers en vriende en familie, jy verduidelik alles.

Jy is nie seker of jy dit reg verstaan nie, en daar is soveel feite, en jy praat met mense wat soveel meer weet in die veld, maar hulle weet nie van hierdie ding nie, so jy vertel en jy verduidelik en jy hoop jy dra die boodskap reg oor maar daar is soveel feite.

Jy praat met soveel mense, want jy moet die dinge deurgepraat kry. Soos met die dood van ‘n geliefde kry mense verskillende reaksies op dit wat jy vertel. Jy kry mense wat luister en verstaan en help, maar dan is daar mos altyd die begrafnis gesiggies wat baie graag wil weet wat aangaan, maar hulle kan nie enige in-diepte liefde oordra nie, die Ag foeitoggers, Ag foeitog, die arme kind. Ag foeitog die arme man, ag foeitog arme jy.

Maar dan, dan kry jy die mense wat daar is vir jou elke oomblik van elke dag, al is dit in gebede, al is dit boodskappe van verre lande, jy kry die mense wat gaan lees daaroor en na jou toe kom met oplossings en idees, jy kry die mense wat jou onderskraag en ondersteun, jy kry die mense wat vir jou bid en jy voel die gebede wat jou dra, vir hierdie mense is ek verskriklik dankbaar, vir hierdie mense het ek net agting en respek.

Dan is daar die mense wat agter jou loop en die kruis se punt optel, die mense wat voor jou loop en die klippe uit die pad uit vat, jy kry die mense wat jou help DRA, hulle help jou om al die oplossings uit te voer, hulle help jou afsprake nakom, hulle help jou lesse gee, hulle gaan saam met jou na dokters toe, hulle staan voor hom in ‘n klas, hulle stuur ‘n boodkap laat in die aand om te hoor of jy OK is. Hulle is die Here se Engele in jou lewe, hulle is die rede dat jy weet daar is ‘n God. Hulle buk as hulle dasse gepluk word en gesels saam oor dasse en die mooi daarvan. Hulle sit saam met jou op die grond en bou legkaarte en leer hulle om lief te wees vir hulle self.

Vir hierdie mense is dankie nie genoeg nie, maar dit is wat ek nou het. Vir al hierdie mense wil ek uit my hart DANKIE sê. Julle is die rede wat ons het om aan te gaan, julle help ons om die lig te sien, julle help ons klokkie om eerder AMAZING GRACE te speel as die dodemars.

So nou pak ons die reis aan, ons loop hom vorentoe, ons weet nie waarheen die pad gaan nie, ons is nie seker wat die pad gaan oplewer nie, maar hier gaan ons…

By Up and Bold gaan ons leer om saam te stap op hierdie nuwe abnormale pad, waar daar nie leuens en huigel is nie. Ons gaan leer van Neurotipies en Anders. Ons gaan leer hoe om lief te wees vir onsself, hoe om ons “lable” te dra met trots. Ons gaan leer wie ons is.

Kom saam met ons op hierdie reis, hierdie reis waar ons onsself moet vind in ‘n wêreld waar ander mense nie wil verstaan nie, in ‘n wêreld waar eerlikheid en opregtheid nie meer belangrik is nie, kom saam met ons waar ons hierdie dinge gaan leef op ons manier.

Volg ons as jy saam met ons wil leer oor NLD, ek is ‘n onderwyser, maar meer ‘n Ma wat vir my kind net die beste wil hê, en daarom gaan ek al die inligting wat ek kan kry, kry, en dan hier deel wat vir ons werk en nie werk nie, strategieë wat ons toepas om die lewe vir hierdie wonderlike eerlike opregte mense makliker te maak.

Ek wil hierdie graag maak sodat ons van mekaar kan leer, as jy iets het wat jy met ons wil deel, skiet ‘n epos, gooi ‘n whatsup, deel dit op sosiale media, deel dit met almal, hoe meer ons leer, hoe beter kan ons mekaar dra:

up.and.bold@gmail.com

Wil jy meer weet en saam met my leer om ‘n vreugde dans te doen op die dodemars en ons lewe daagliks voluit lewe, opreg en eerlik.

This post contains affiliate links. If you are kind enough to use my code, I make a buck or 2, without you paying anything😉.

Advertisements

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.